Vermeende veedief wat Kawana dagvaar, weer in die hof

Die afgetrede generaal-majoor Thomas Hamunyela bly in die nuus. Hy het vroeër die jaar die aandag van die media getrek toe hy gearresteer is vir die diefstal van vyf bees naby die Mutorwa-nedersetting in Kavango Wes en toe hy in die Rundu landdroshof verskyn toe bieg hy dat hy ‘n AK-47 besit. Hy het aan die hof gesê hy het die wapen gevat toe hy uit die weermag afgetree het omdat sy land hom dalk nodig sal hê. Hamunyela dagvaar nou die minister van veiligheid en sekuriteit vir 420 000 Namibiese dollar in skadevergoeding vir wat hy beskryf as sy onwettige arrestasie en aanhouding. Hy is op 13 Januarie vanjaar op die klagte van veediefstal gearresteer en is 5 000 dollar borg op 15 Januarie gegee. Die saak kom vandag voor regter Essie Schimming-Chase voor vir ‘n voorverhoor konferensie. Hamunyela word ook verbind met vee wat van die voormalige minister Jerry Ekandjo gesteel is.