Vermeende Maerua-rowers vandag in die hof

Die sewe vermeende rowers wat betrokke was by die rooftog op 8 Februarie by Maerua Mall in die hoofstad, verskyn weer vandag nadat landdros Desire Kamboua die saak op 11 Februarie vanjaar uitgestel het. Die groep het na bewering 162 000 Namibiese dollar in kontant by ‘n Kubaanse sakevrou gesteel. Die Namibiese polisie het 52 000 dollar teruggevind sowel as twee voertuie wat kort na die rooftog aangekoop is. Die motor waarin die groep na bewering die misdaad gepleeg het, het na drank geruik en die polisie het ook ‘n halwe bottel tradisionele wyn in die motor gevind. Twee wapens, waarvan een gesteel is, is ook gekonfiskeer. Die sewe is Andreas Abed, Fillemon Iyambo, Petrus Ileka, Martin Shilongo, Rainhold Shikongo, Pandeinge Shivute en Johannes Teofelas. Hulle staar verskeie klagte in die gesig waaronder ook die onwettige besit van wapens en ammunisie.