Verligting: Nog 4 graanskepe verlaat Odesa

Nog vier skepe vol graan en sonneblomolie het Oekraïnse hawens aan die Swart See verlaat op pad na Turkye. By hulle aankoms sal die skepe geïnspekteer word as deel van ʼn ooreenkoms tussen Rusland en die Verenigde Nasies. Twee sal in Turkye vasmeer terwyl die ander na Italië en China sal vaar. Oekraïne is een van die wêreld se grootste graanuitvoerlande maar is gedwing om sy aflewerings op te skort weens die inval deur Rusland. Indien die ooreenkoms met Rusland hou, sal Oekraïne tot drie miljoen ton per maand uitvoer.