Verkoue gehad? Jy het beskerming teen Covid

T-limfosiet-selle wat opbou tydens algemene verkoues, kan baie goeie beskerming teen Covid-19 bied. Die bevinding is by Imperial College in Londen gemaak in ‘n navorsingsprojek wat Maandag gepubliseer is. Algemene verkoues vorm ook deel van die groep van koronavirusse en navorsers meen die reaksie van die tipe witbloedselle teen Covid-19, kan bydra tot die formulering van toekomstige inentings. Navorsing is reeds in September 2020 begin en daar is bevind dat persone wat nie Covid opgedoen het na kontak met ‘n positiewe geval, baie hoër vlakke van T-limfosiete teen verkoues het. Huidige inentings teiken die virus se stekelproteïen wat gereeld muteer en die doeltreffendheid daarvan beïnvloed.