Verdagtes môre in hof oor kaping van hoender-afleweringswa

Negentien verdagtes sal môre in die Goodwoodse landdroshof in Kaapstad verskyn nadat hulle verlede week in hegtenis geneem is weens die kaping van ‘n hoender-afleweringswa in Wynberg. Daar was 1 155 bokse hoenderprodukte ter waarde van meer as 600 000 rand op die vragmotor. Volgens ‘n polisiewoordvoerder, Novela Potelwa, is die verdagtes enkele ure na die kaping met behulp van ‘n opsporingsonderneming in hegtenis geneem. Hulle is aangekla van die besit van gesteelde goedere.