Verbod van twee jaar vir buitelanders om huis in Kanada te koop

‘n Verbod van twee jaar waartydens sommige buitelanders nie huise in Kanada sal kan koop nie, het in werking getree. Die verbod is daarop gemik om een van die mees onbekostigbare huismarkte ter wêreld te help verlig. Huispryse is gemiddeld 568 000 Kanadese dollar wat elf keer meer as die gemiddelde huishoudelike inkomste ná belasting is. Sommige politici is van mening dat buitelanders verantwoordelik is vir dié styging omdat hulle huise as beleggings en nie as wonings koop nie. Die minister van behuising, Ahmed Hussein, sê die verbod is daarop gemik om kopers te ontmoedig om huise as kommoditeite te beskou, pleks van ‘n gesinswoning.