Veldtog teen uraan-mynbou by Stampriet-kom gaan voort

Die Stampriet Aquifer Uranium Mining Association, Sauma, gaan voort om bewusmaking te bevorder oor die gevare van besoedeling wat gepaard gaan met die beplande uraan-mynbou in die drinkwater-akwifeer van die Stampriet Artesiese Kom. Ná ’n veldinspeksie, het die die landbouministerie twee boorpermitte in November 2021 gekanselleer omdat die permitvereistes nie nagekom was nie. Intussen is 250 nuwe aansoeke vir voorlopige boorpermitte afgekeur, maar vermoedens bestaan egter dat eksplorasie en boorwerk dalk gedeeltelik voortgaan. Die Sauma-komitee verwag dat Headspring Investments nie maklik sal tou opgooi nie en die saak in die hof sal beland. Sauma is reeds besig met ’n inligtingsveldtog, maar sal genoodsaak wees om bewyse te lewer om die owerhede of ’n hof daarvan te oortuig dat só ’n onderneming potensieel rampspoedig kan wees. ‘n Lid van die komitee, Tanja Dahl, sê aan Kosmos 94.1 Nuus hierdie aksies dra finansiële implikasies en enige bydraes om kostes te dek word daarom verwelkom.