Veldbrande rondom Windhoek geblus

Die brandweerspan wat die veldbrand suid van Windhoek bestry het, het bevestig dat hulle die vuur onder beheer gebring het voor dit die Omeya-gholflandgoed bereik het. Toestemming is gekry om die helikopter van die Namibiese polisie te gebruik, maar die brande was geblus voor die helikopter opgestyg het. Die hoof van Windhoek se Noodramp Risikobestuursafdeling, Raymond Kapia, het aan Kosmos 94.1 Nuus bevestig alle brande rondom die hoofstad is geblus.

Kapia het sy dank uitgespreek aan maatskappye en die publiek wat water en verversings aan brandslaners geskenk het. Hy bedank onder meer Metro, Mediclinic, Coca-Cola, TNC, Complete Enterprise Solution, Van der Merwe en Greeff-regsfirma, asook Engen wat brandstof ter waarde van 10 000 Namibiese dollar geskenk het.