Vanger van stropers, Sammy, tree af

Na ses jaar in die stryd teen renosterstropery, het die vierpotige Suid-Afrikaanse heldin Sammy afgetree. Sy was die Oos-Kaap se eerste teen-stropings- en snuffelhond wat deur ‘n nie-regeringsorganisasie befonds is en het ‘n groot rol gespeel in die werksaamhede van plaaslike teen-stropingseenhede. Dié Duitse herdershond het in 2015 op die ouderdom van 18-maande op die Amakhala-natuurreservaat aangekom en is aan die hanteerder, Azola, toegewys. Sammy het opleiding ondergaan in die opspoor van vermiste mense, gehoorsaamheid en aanvalswerk, en het die weg gebaan vir vele ander reservate om ook honde te gebruik.