Vakbondlid soek N$1m van Napwu

Bernardus Araeb dagvaar die openbare werkers vakbond Napwu vir net meer as ‘n miljoen Namibiese dollar in skadevergoeding. Volgens Araeb, is hy en twee kollegas onregverdig by die gesondheidsministerie afgedank. Hy het daar gewerk as ‘n senior sekuriteitsbeheer-beampte. In sy stukke voor die hof sê hy dat sy twee kollegas deur hulle verpleërs vakbond suksesvol verdedig en hulle is uitbetaal. Hy voer aan dat Napwu gesloer het met sy saak en die kwessie was ten tye van die verhoor ouer as twee jaar en kon dus nie verhoor word nie, al was ‘n baie goeie kans op sukses. Hy vra betaling vir verlore inkomste, bonusse en ook skuld wat hy moes aangaan omdat hy nie gewerk het nie. Die saak, wat verdedig word, is tot Donderdag neergelê vir verhoor voor regter Marlene Tommasi.