Vakbonde verklaar staking, datum binnekort bekend

Die Namibiese Openbare Werkersunie, bekend as Napwu, en die Namibiese Nasionale Onderwysersunie, Nantu, het amptelik aangekondig dat die staatsamptenare se staking gaan plaasvind maar geen datum bevestig nie. Napwu se sekretaris-generaal Petrus Nevonga sê dat uit 81 853 staatsamptenare het 43 794 aan die landwye peilings deelgeneem, wat 53,5 persent van die totale stemgeregtigde kiesers verteenwoordig. Net meer as 96 persent het ten gunste van die staking gestem. Volgens Nevonga is al wat nou oorbly dat die twee vakbonde met die regering vergader om die stakingsreëls op te stel. Dit sal vandag begin. Nadat dit ooreengekom is, sal daar 48 uur se kennis gegee word vir die staking om te begin. Hy het egter aangedui dat onderhandelinge intussen met die regering sal voortgaan om te sien of ‘n ooreenkoms voor die stakingsdag bereik sal word.