Unam ondersoek kwessie van onderwysvraestelle

Die Universiteit van Namibië sê sy ondersoek na die beweerde uitlek van onderwysvraestelle duur voort. Dit kom na die aankondiging dat Vrydagoggend se vraestel, en verskeie ander onderwysmodules se vraestelle, onbepaald uitgestel is. In ‘n mediaverklaring sê die registrateur die universiteit verstaan die geweldige impak van die uitstel op studente wat tans besig is om voor te berei vir hul eksamens, maar die tydelike kansellasie van die eksamens is nodig om die integriteit van sy opleiding sowel as sy kwalifikasies te verseker. Die uitstel sal ook spesiale en aanvullende eksamens en enige reëlings wat studente moontlik reeds getref het, beïnvloed. Dissiplinêre stappe sal geneem word indien nodig en die universiteit het reeds reëls daarvoor, teen beide studente en personeel. Studente sal ten minste vyf dae voor ‘n nuwe datum bepaal word, ingelig word.