Uitgeteerde leeu reeds van kant gemaak

Die video van die uitgeteerde leeuwyfie in die Kunene-streek het groot reaksie op sosiale media uitgelok. Die Namibiese Ministerie van Omgewingsake het ‘n verklaring uitgereik in die verband en sê die leeu is reeds Sondag van kant gemaak. Die wyfie het by ‘n bokkraal by Mbakondja inmekaar gesak en kon net brul ter verdediging. Inwoners van die Kunene-streek en bestuurders by van die bewaringsgebiede sê baie van die leeus in die gebied lyk so. Jare se droogte en die benutting van wild deur gemeenskappe het getalle skerp laat daal. Konflik by nedersettings neem ook toe. Daar word verwag dat nog leeus van kant gemaak sal word. ‘n Wyfie in dieselfde kondisie is in Februarie ook in die gebied uitgesit. Die ministerie sê monsters is Sondag by die wyfie geneem en toetse sal gedoen word om te bepaal of sy enige siekte onder lede gehad het.