Uitdaging vir Bokke is meer as net ‘n oorwinning

Daar is meer op die spel as net ‘n oorwinning vir die Springbokke in hulle eerste toets vanmiddag teen Wallis op Loftus. Die Bokke kom vroeg volgende maand teen die All Blacks te staan. Vanmiddag se wedstryd sal help bewys of die Suid-Afrikaners gereed is om die Vryheidsbeker weer in te palm. Die Springbokke reis ook in November na Europa vir kragmetings teen Ierland, Frankryk, Italië en Engeland. En dan is daar volgende jaar se Wêreldbeker in Frankryk. Hoewel die huidige wêreldkampioene allerweë as die gunstelinge teen Wallis beskou word, weet elke speler hy moet homself bewys.