UBS kom tot Credit Suisse se redding

Switserland se grootste bank, UBS, het ingestem om sy sukkelende mededinger, Credit Suisse, met ‘n nood-reddingsooreenkoms te hulp te snel. Credit Suisse het verlede week erken daar is beduidende tekortkominge in sy boekhouding terwyl die ineenstorting van Silicon Valley Bank en Signature Bank vrese oor swakker instellings aangewakker het. Die Switserse Nasionale Bank sê die ooreenkoms is die beste manier om vertroue in finansiële markte te herstel en ekonomiese risiko’s te bestuur. Die ooreenkoms het nie die goedkeuring van aandeelhouers nodig nie omdat die Switserse regering ingestem het om die wet te verander om enige onsekerheid te verwyder.