Tydelike verbod op Texas aborsiewet

Die Biden-administrasie het sy eerste oorwinning in sy regstryd teen Texas se nuwe aborsiewet gehad maar dit is moontlik net tydelik. ‘n Federale regter, Robert Pitman, het ‘n tydelike verbod op die wet, wat aborsie na ses-weke onwettig verklaar, geplaas. In sy beslissing het Pitman gesê die hof sal nie ‘n dag langer duld waar die regte van vroue ontneem word nie. Texas het aangekondig dat hy sal appelleer. Die Biden-administrasie voer aan dat die wet teenstrydig is met die land se Grondwet. Die wet is ook omstrede omdat Jan Alleman ‘n beloning van tot 10 000 dollar kan ontvang as hulle onwettige aborsies uitwys.