Twitter is weer in Nigerië beskikbaar

Nigeriërs kan weer Twitter gebruik nadat dié land se regering ná sewe maande ‘n verbod op die sosiale-media-platform opgehef het. Die verbod is in Junie verlede jaar ingestel nadat die platform ‘n twiet van president Muhammadu Buhari oor straf vir streeksafstigters verwyder het. Twitter is toe daarvan beskuldig dat die platform die opposisie se kant kies. Daar word berig die Nigeriese regering het nou besluit om die verbod op te hef nadat die platform ingestem het om plaaslik ‘n kantoor te open, en ook tot ander voorwaardes. Die nuus volg op die aankondiging dat lande wat internetdienste opskort, miljarde verloor en Nigerië het 23,2 miljard Namibiese dollar verloor, en is internasionaal tweede geplaas. Mianmar het die meeste verloor, net minder as 45 miljard Namibiese dollar.