Twitter: GM onttrek eers advertensies, Musk in moeilike posisie

General Motors sê hy het betaalde advertensies op Twitter tydelik gestaak nadat Elon Musk die platform oorgeneem het. Die grootste Amerikaanse motorvervaardiger sê dat hy “met Twitter besig is om die rigting van die platform onder hul nuwe eienaarskap te verstaan”. Musk is die uitvoerende hoof van General Motors se mededinger, Tesla. Kenners meen Musk is in ‘n uiters moeilike posisie as gevolg van konflik van belange. Hy het byvoorbeeld bande met Brasilië se president, Jair Bolsonaro, wat toesien dat hy die nodige minerale vir die batterye van sy elektriese motors voorsien. Musk het aangekondig dat ‘n komitee op die been gebring sal word om ‘n beleid oor inhoud te bepaal en voor dit nie gedoen is nie, sal geen aanpassings op die platform gemaak word nie. Adverteerders is daarvoor bekend dat hulle nie adverteer op platforms waar daar nie goeie beheer is oor veral haatspraak nie.