Twee oud-Suid-Afrikaners oorleef helikopterongeluk by Brisbane

Twee oud-Suid-Afrikaners tel onder die oorlewendes van die helikopter-ongeluk Maandag aan die Australiese Gouekus wat die lewe van vier mense geëis het. Riaan en Elmarie Steenberg, voorheen van Springs in Gauteng, het agt jaar gelede na Nieu-Seeland geëmigreer en was met vakansie in Australië. Twee helikopters van Sea World het sowat 25 kilometer suid van Brisbane in die lug gebots. Een helikopter met toeriste was besig om op te styg en die ander een was besig om te land. Die een wat besig was om op te styg, het op ‘n sandbank in die see neergestort. Vier insittendes, onder wie die vlieënier, is dood en die ander drie insittendes is kritiek beseer.