Twee mans in Otjozondjupa dood onder verdagte omstandighede

Die Namibiese polisie in die Otjozondjupa-streek het forensiese ondersoeke van stapel gestuur na die dood van twee mans wat vermoedelik onder verdagte omstandighede plaasgevind het. Die eerste geregtelike doodsondersoek behels die 30-jarige Gerson Haimene, ‘n student aan die Universiteit van Namibië. Haimene, wat van Otjiwarongo is, is dood en halfnaak aangetref deur ‘n verbyganger by ‘n plaashek langs die grondpad na die Osire-vlugtelingskamp. Volgens die polisie het Haimene se liggaam geen beserings of sigbare merke gehad nie. Die ander ondersoek volg ná die dood van die 35-jarige Eduardo Kuhanga, ‘n psigiatriese pasiënt, wie se liggaam in die bosse by Coblenz in die Okakarara-kiesafdeling gevind is nadat familielede ‘n soektog na hom van stapel gestuur het ná hy Dinsdag verdwyn het.