Twee-derdes van Namibiërs boer

Die omgewingsminister, Pohamba Shifeta sê terwyl 90 persent van Namibië as droog en semi-dor beskryf kan word, word 70 persent van die land se beskikbare grond vir landbou benut. Shifeta, wat in Glasgow by COP26 gepraat het, het bygevoeg dat twee-derdes van die land se bevolking op landbou staatmaak. Die gebruik van grond as bron van inkomste word al hoe meer riskant en dus is volhoubare grondbestuur praktyke dringend nodig. Droogtes neem toe, en ekstreme weerverskynsels word ook algemeen. Namibië het reeds die VN se konvensies op klimaat onderteken en volgens Shifeta is talle van die teikens en praktyke reeds deel van die regering se beleid. Maar, Namibië veroorsaak nie klimaatsverandering nie en dus is aanpasbaarheid uiters belangrik.