Twaalf persone nog vermis ná veerboot naby Corfu in vlamme uitbars

Die soektog na 12 vermiste persone duur voort nadat ‘n veerboot in vlamme uitgebars het naby die Griekse eiland Corfu. Hulle is vermoedelik almal vragmotorbestuurders van Bulgarye, Griekeland, Turkye en Litaue. Die Griekse owerhede sê die brand, wat Vrydag uitgebreek het, woed steeds en bemoeilik die taak van reddingswerkers. Die oorsaak is steeds onbekend. Altesaam 280 mense is ontruim en twee is per helikopter van die skip verwyder, nadat hulle in die skeepsruim vasgekeer was.