Tutu: sal die Dalai Lama kan kom as hy wou?

Die dood van emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu is steeds in die nuus. Die Tibettaanse geestelike leier die Dalai Lama het in ‘n verklaring gesê die beste huldeblyk om Tutu se gees te laat voortleef, is om sy voorbeeld te volg en voortdurend te kyk waar jy ander kan help. Intussen gons dit op sosiale media of die Dalai Lama in Suid-Afrika toegelaat sal word vir Tutu se begrafnis. Hy is in 2009 toegang tot die land geweier toe hy Tutu se verjaarsdag wou bywoon, en weer in 2014 vir die 14de beraad van Nobel-vredespryswenners. Die publiek, en talle kommentators meen dat die ANC-regering se verbintenis met China die stap genoodsaak het. Maar die regering kon nie kritiek vryspring nie omdat hy die leier van Sudan Omar al-Bashir in 2015 toegang gegee het terwyl die VN hom gesoek het vir misdade teen die mensdom. Die Dalai Lama het nog nie aangedui of hy Tutu se begrafnis sal bywoon of nie.