Trump weet nie waar die dokumente is nie

Regter Arthur Engoron in New York het sy verbasing uitgespreek dat Donald Trump nie in staat is om enige dokumente te verskaf wat in ’n ondersoek van die Trump-organisasie gesoek is nie. Die regter sê hy sal voortgaan om die voormalige Amerikaanse president in minagting van die hof te hou en hom met 10 000 Amerikaanse dollar per dag beboet ondanks ‘n versoek van Trump se prokureur om beide bevele op te hef. Engoron sê dit is onmoontlik dat Trump van geen dokumente oor sy eiendomme beskik nie. Trump het Woensdag ’n beëdigde verklaring onderteken waarin hy sê hy glo nie hy het enige relevante dokumente nie en, as daar enige dokumente was, sou die Trump-organisasie dit hê. Om die hofbevel van minagting ter syde te stel, moet Trump besonderhede gee oor presies waar die dokumente is.