Trump-vennoot gearresteer

Die voorsitter van die voormalige Amerikaanse president Donald Trump se 2017-inhuldigingskomitee, Thomas Barrack, is gister in Los Angeles in hegtenis geneem. Barrack en twee ander mense word aangekla dat hulle tussen April 2016, tydens Trump se eerste presidensiële veldtog, en April 2019 as agente van die Verenigde Arabiese Emirate opgetree het. Barrack is ook aangekla van dwarsboming van die gereg en die aflegging van vals verklarings aan federale wetstoepassingamptenare. Barrack het in die hof verskyn en bly tot Maandag vir sy borgaansoek in aanhouding.