Trevali verkoop aandele van 90% in Rosh Pinah-sinkmyn

Trevali Mining Corporation sal sy belang van 90 persent in die Rosh Pinah-sinkmyn in die Karas-streek aan die Londen-gebaseerde private mynfonds, Appian Capital Advisory se Appian Natural Resources Fund III verkoop. Trevali is ‘n Kanadese mynmaatskappy met vier produksie-bedrywighede in Kanada, Peru, Burkina Faso en Namibië. Trevali het in Augustus die uitbreiding van die Rosh Pinah-myn gestaak nadat hy om beskerming teen sy krediteure aansoek gedoen het, ná verskeie terugslae soos ‘n oorstroming by sy Perkoa-myne in Burkina Faso, wat tot agt sterftes gelei het. Die Rosh Pinah-sinkmyn is met aandeelhouding van 90 persent besit deur Trevali en 10 persent deur die Namibiese Breë-gebaseerde Bemagtigingsgroepe en ‘n werknemersbemagtigings-deelname-skema.