Trekking vir Aussie Ope uitgestel weens Djokovic

Die Australiese Ope se organiseerders het geen verduideliking verskaf vir die onbepaalde uitstel van vandag se trekking vir die jaar se eerste grand slam-toernooi wat Maandag in Melbourne begin nie. Die wêreld se nommer een en eerste gekeurde, Novak Djokovic, wag steeds dat die minister van immigrasie, Alex Hawke, besluit of hy in die land mag bly. ‘n Hof het hierdie week weer sy visum ingestel, maar dit het toe aan die lig gekom dat hy op sy aansoekvorm gelieg het. Hy het blykbaar ook openbare geleenthede bygewoon sonder om ‘n masker te dra, ná hy positief getoets het vir Covid-19.