TransNamib-werkers stem vandag oor staking

Die dag het uiteindelik aangebreek vir TransNamib-werkers om na die stembus te gaan om te besluit of hulle gaan staak ná mislukte salaris-onderhandelings. Die dringende aansoek deur TransNamib om die Namibiese Vervoer- en Geallieerde Werkersvakbond, Natau, te verhoed om te staak, is van die rol verwyder. Die oorspronklike staking sou op 18 Julie landswyd begin het, maar is met ‘n tydelike hofinterdik verhoed. Natau se sekretaris-generaal, Narina Pollmann, sê hulle is steeds oop vir onderhandelinge en ‘n ooreenkoms met TransNamib. Sy moedig TransNamib-werkers aan om te gaan stem.