Tragedie by troue in Irak met 100 wat doodbrand
Minstens 100 mense is dood en meer as 200 beseer nadat ʼn brand by ʼn troue in die Hamdaniya-distrik in Irak se Nineve-provinsie uitgebreek het. Voorlopige inligting dui daarop dat die gebou waar die troue gehou is, van hoogs vlambare materiaal gebou is wat tot sy vinnige ineenstorting bygedra het. Die bruid en bruidegom is volgens berigte onder die slagoffers. Eerste minister Mohammed Shia al-Sudani het ʼn ondersoek na die brand gelas en amptenare beveel om alles moontlik te doen om hulp te verleen aan dié wat geraak is.