Toordokter ‘slagoffer’ bly in aanhouding

Amalia Akwaake, een van twee beskuldigdes wat aangekla word vir die diefstal van 1,1 miljoen Namibiese dollar van Standard Bank op Arandis en ‘n toordokter vir die misdaad blameer, sal in aanhouding bly nadat ‘n aansoek om borg in die Swakopmund-landdroshof van die hand gewys is. Sy is op 18 Mei op Arandis in hegtenis geneem saam met die bankbestuurder Engelborg Strauss. Die saak het in Mei groot opslae gemaak omdat Strauss na bewering 800 000 dollar in kontant uit die bank se kluis gevat het en vir iemand in ‘n motor buite die bank gegee. Strauss het ook ‘n verdere 306 000 dollar in ‘n bankrekening in betaal wat Akwaake onttrek het. Getuienis in die saak raak al hoe meer deurmekaar met Strauss wat aan owerhede gesê het dat sy of deurgeloop het onder bedrieërs of sy is afgepers dat haar man vermoor sou word indien sy nie die geld oorhandig nie. Haar saak sal weer op 29 September voortgaan.