Tolstelsel is plaaslik volhoubaar, kabinetskomitee gee groenlig

Die Padfondsadministrasie sê ‘n studie toon dat daar genoeg verkeersvloei in die land is vir ‘n volhoubare tolstelsel. Die administrasie is tans hoogs afhanklik van brandstofheffings om Namibië se padnetwerk van 50 000 kilometer in stand te hou. Volgens Patricia Keeja, waarnemende uitvoerende hoof, is ‘n uitvoerbaarheidstudie twee jaar gelede afgehandel, wat bevestig dat Namibië genoeg verkeersvloei het om tolhekke op verskeie punte op te rig. ‘n Komitee van die kabinet het reeds die groenlig gegee om voort te gaan om belanghebbendes in hierdie verband te betrek. Keeja voeg by dat die wêreld stelselmatig oorgaan na elektriese voertuie en teen 2030 sal die meeste gevorderde ekonomieë nie meer voertuie met binnebrandenjins vervaardig nie. Hierdie voertuie sal dus binnekort daarna uitgefaseer word. Dit sal ‘n reuse-finansieringsprobleem vir die administrasie skep.