Toerisme-syfers vir Junie lyk belowend

’n Nasionale kamerbesettingskoers van 32,1 persent is gedurende Junie by Namibiese gasvryheids-instansies aangeteken, vergeleke met 39,4 persent in die vorige maand en 16,7 persent in Junie 2021. Dit is volgens die Gasvryheidsvereniging van Namibië se toerismeverslag van Junie. Op ‘n jaargrondslag is die nasionale besettingskoers gemiddeld 29,6 persent, vergeleke met 21,5 persent vir dieselfde tydperk in 2021, wat ‘n verbetering in toeriste-invloei toon. Voorlopige besprekings by die meeste gasvryheids-instansies dui aan dat Namibië se piek toerismeseisoen van Julie tot September aansienlike verbeterde vlakke behoort te sien in vergelyking met 2021.