Toename in gewapende roof wek kommer

Kenners is dit eens dat die toename in gewapende roof in die land kommerwekkend is. Die Namibiese polisie het ‘n 43-jarige man in hegtenis geneem in verband met Maandag se transitoroof in Hochlandpark in die hoofstad. Vyf gewapende mans het op ‘n geldwa toegeslaan en weggekom met 1,5 miljoen Namibiese dollar in kontant. Nog vyf verdagtes is die week gearresteer na ‘n gewapende transitoroof op 21 Julie in Hakahana. Daar is net meer as 102 000 dollar in kontant in die rooftog gebuit. Ook die week was daar ‘n poging tot roof op Swakopmund by Shoprite maar dit is gefnuik. Ook die week het drie mans by die huis van die voormalige media-attaché van die Namibiese ambassade in China, Johannes Nakaambo, ingebreek en weggekom met 2 miljoen Namibiese dollar in kontant. Die geld was in ‘n kluis in sy huis. Die Oshikoto polisie het die publiek se hulp in die verband gevra.