Tienerseun glo agter bakkie gesleep in Vrystaat

Die Vrystaatse polisie ondersoek ‘n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer nadat ‘n boer na bewering ‘n seun agter aan ‘n bakkie vasgebind en gesleep het. Daar word beweer ‘n groep seuns het onwettig gaan jag op ‘n plaas naby Petrusburg. Die eienaar van die plaas het glo die 14-jarige vasgetrek toe hy die groep agtervolg het. Volgens die polisiewoordvoerder, Fikiswa Matoti, beweer die boer die seun het onderweg na die polisiestasie van die bakkie afgespring. Matoti sê die seun is hospitaal toe geneem weens sy beserings.