Tennis: Mylpaal wink vir Djokovic

Tennis: Novak Djokovic kan Roger Federer se kampioenskap-oorwinnings vandag ewenaar wanneer hy die Noorweër Casper Ruud in die ATP-eindronde in Turyn, Italië, pak. Djokovic se sak kan ook bult danksy die grootste prysgeld in die geskiedenis van tennis met byna 82 miljoen Namibiese dollar wat op die spel is vir die speler wat die kampioenskap onoorwonne afsluit. Federer hou die rekord van ses kampioenskapstitels by die gesogte seisoen-eindstryd. Djokovic het die Amerikaner Taylor Fritz met 7-6, 7-6 in die halfeindronde geklop terwyl Ruud die Rus, Andrey Rublev, met 6-2 en 6-4 uitgeskakel het.