Teen-inentingsbetogings beledig mediese personeel

Die uitvoerende hoof van die Groote Schuur-hospitaal, Bhavna Patel, sê die teen-inentings-betogings wat die naweek buite die hospitaal in Kaapstad plaasgevind het, was oneerbiedig teenoor hulle personeel. ‘m Groep betogers wat teen Covid-19-inentings gekant is, het Saterdag te velde getrek teen die hospitaal en sy personeel wat reeds honderde Covid-19-pasiënte behandel het. Sommige het hardhandig geraak met diegene wat die inenting ondersteun. Patel sê hulle pleit by diegene wat sterk teen inenting gekant is, om nie ander van hul eie grondwetlike reg tot gesondheidsorg te weerhou nie.