Tariefverhogings sal Windhoekers dieper in skuld dompel

Plaaslike ekonome is van mening dat ‘n verhoging in Stad Windhoek se belasting en tariewe meer inwoners van die hoofstad in die rooi sal plaas en die skuldlas by die munisipaliteit verhoog. Talle mense het as gevolg van Covid en die gepaardgaande inperkings hulle werk verloor en volgens die jongste syfers van die Ministerie van Arbeid is amper 1 000 mense afgedank in die eerste drie maande van die jaar. Stad Windhoek het vroeër aangekondig dat krag duurder sal word nadat NamPower ‘n toegelate verhoging van 2,92 persent ontvang het vir grootmaattariewe. Stad Windhoek het vir 5 persent aansoek gedoen. Dit is nog nie bekend wat met tariewe vir water sal gebeur nie. Daar is ander dienste waarvoor Stad Windhoek verhogings sal instel wat openbare vervoer insluit. Die Stad sê hy het nie genoeg inkomste om sy uitgawes te dek nie.