Talle sterf in Israelse lugaanvalle

Minstens tien mense, insluitend ‘n senior lid van die Palestynse Islamitiese Djihad, is in Israelse lugaanvalle dood. Volgens internasionale mediaberigte het mense ‘n ontploffing in die stad Gaza gehoor en rook vanuit die sewende verdieping van ‘n gebou sien borrel. Die Palestynse ministerie van gesondheid het later gesê 40 mense is gewond. ‘n Senior Islamitiese Djihad-bevelvoerder, Tayseer al Jaabari, en ‘n vyfjarige kind is onder die slagoffers wat in die ontploffing gesterf het. Die lugaanvalle kom na dae van spanning ná Israel vroeër die week paaie om Gaza gesluit en versterkings na die grens gestuur het.