Taliban skiet protesgangers dood

Minstens drie mense is dood en talle beseer nadat Taliban-vegters losgebrand het op inwoners van Jalalabad in Afganistan wat uit protes teen die groep se bewindsoorname die landsvlag op ’n plein wou hys. Daar was ook verskeie protesoptogte in Kaboel en verder na die ooste van die land. Die hardhandige reaksie is strydig met die Taliban se beloftes dat hy ’n vreedsame oorname wil bewerkstellig. Die Taliban het gesê hy sal nie wraak neem op sy vyande nie en vroue sal binne die raamwerk van die Islamitiese wet gerespekteer word. Intussen is Ashraf Ghani, die land se president, in die Verenigde Arabiese Emirate sedert Taliban-vegters die bewind in die land oorgeneem het.