T20-wêreldkampioen kom hard terug aarde toe

Krieket: Die nuutgekroonde T20-wêreldkampioen, Engeland, is hard terug aarde toe gebring toe Australië skoonskip gemaak het in die eendagreeks. Die gasheer het die derde en laaste wedstryd in Melbourne met ʼn yslike 221-lopies gewen. Hulle het 355 vir vyf aangeteken nadat die kragmeting weens reën tot 48-boulbeurte per span verminder is. Travis Head en David Warner het albei honderdtalle aangeteken. Engeland moes ʼn aangepaste Duckworth-Lewis-Stern-telling van 363 behaal maar is vir slegs 142 uitgeboul. Adam Zampa het vier paaltjies laat kantel.