T20: Indië dring deur tot halfeindronde

Indië het hul plek in die halfeindronde van die T20-wêreldbekertoernooi in Australië bespreek met ‘n oorwinning van vyf lopies oor Bangladesj in Adelaide. Indië het 184 vir ses aangeteken te danke aan die vyftigtalle van Virat Kohli en K-L Rahul. Bangladesj se lopie-jaagtog is na ‘n onderbreking weens reën tot 151 in 16 boulbeurte verminder. Die span kon net 145 vir ses aanteken. Indië is bo-aan Groep 2 met ses punte na vier wedstryde. Suid-Afrika het vyf punte na drie wedstryde. Die Proteas speel môre in Sydney teen Pakistan.