Swart naweek vir kinders regoor Namibië

Talle kinders is die naweek in Namibië dood, volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag. Die lewelose liggaam van ‘n baba wat in ‘n swart plastieksak toegedraai was, is in ‘n munisipale asblik in Otjomuise in die hoofstad ontdek. Niemand is in hegtenis geneem nie. ‘n Tweejarige seuntjie, Immanuel Mwatelulo, het in die Okalushu-nedersetting naby Ongha in ‘n emmer water verdrink. Op Nkurenkuru is ‘n ses weke oue baba, Agnes Ndara, van die Karanawa informele nedersetting, dood met aankoms by die hospitaal verklaar nadat skuim en bloed glo by haar neus uitgekom het.  Nog ‘n drie maande oue babaseuntjie, Tjihinga Simon Tjimantu, is by die Bunye-kliniek by Kahenge met aankoms dood verklaar. Op Oshakati is die lewelose liggaam van ‘n vyf maande oue baba-meisie, Iitengula Tangi Lazarus, deur haar ma op die bed ontdek.