Swapo-veteraan Jerry Ekandjo dreig met regstappe

Swapo-veteraan Jerry Ekandjo het by monde van sy prokureur Richard Metcalfe met regstappe teen die party gedreig indien hy nie as ‘n kandidaat vir die vise-president se pos ingesluit word nie. Ekandjo het gesê die aanvaarding van Tom Alweendo en Frans Kapofi in die wedloop om vise-president, terwyl hulle nie eens een dag as sentrale komiteelede gedien het nie, het partyreëls oortree. Ekandjo het derde gekom in die verkiesing vir manlike vise-presidentskandidate, naas omgewingsminister Pohamba Shifeta en verdedigingsminsiter Frans Kapofi, wat vroeër vandag sy onttrekking aan die wedloop aangekondig het. Metcalfe sê aan Kosmos 94.1 Nuus slegs Ekandjo en Shifeta kwalifiseer vir die pos volgens die party se grondwet.