Swakop-skietery: Masolijn was bekende misdadiger in Holland

Berigte uit Nederland lui dat die 53-jarige Roland Masolijn ’n voorheen veroordeelde misdadiger is. Masolijn is Maandagmiddag omstreeks vier-uur voor sy huis in Swakopmund doodgeskiet. Hy het Michel Stuiver in 2001 in Eindhoven in daardie land doodgeskiet en het verskeie jare tronkstraf daarvoor uitgedien. Volgens berigte is hy ook gekoppel met die verdwyning van ‘n dwelmbaas, Henk Vierwint, van Nederweet in daardie land. Hy is blykbaar bekend in kriminele sirkels daar en is bekend as Puntkop. Daar word berig dat hy drie jaar in Namibië gebly het en plaaslike polisie is aangehaal dat hy moontlik onwettig in Namibië was. Plaaslike media berig op hulle beurt dat ‘n vriend van Masolijn sê sy dood was ‘n sluipmoord-aanval omdat hy ‘n uiters goeie skut was en het ook gewerk in teen-seerowery operasies aan die kus van Somalië. Volgens Nampol ondersoek hulle nog nie voorval en daar is geen verdagtes aan die mag bekend nie. Dwelms, kontant en selfone is deur die mag op die toneel gekonfiskeer.