Sunak gee in, sê hy sal COP27 bywoon

Die nuwe Britse eerste minister, Rishi Sunak, het van plan verander oor sy besluit om nie volgende week die COP27-beraad oor klimaatsverandering in Egipte by te woon nie. Hy het aanvanklik besluit om eerder tuis te bly en sy land se ekonomiese uitdagings te hanteer, maar het onder druk van Parlementslede en omgewingsaktiviste geswig. Sunak sê in ‘n verklaring op Twitter hy sal na Sharm El-Sheikh reis omdat daar geen energiesekerheid is sonder om in hernubare energie te belê nie. ‘n Vorige eerste minister, Boris Johnson, het vanoggend aangekondig dat hy ook die beraad gaan bywoon.