Suiwelproduksie neem verder af in Namibië

Melkproduksie in Namibië het met amper 38 persent gedaal met ‘n skamele 15 miljoen liter wat verlede jaar geproduseer is, teenoor net meer as 24 miljoen liter in 2016. Die voorsitter van die Suiwel Produsente-vereniging Dirk van Wyk het aan plaaslike media bevestig dat die syfers vir die eerste ses maande van die jaar effe beter vertoon as gevolg van goeie reën. Volgens Van Wyk is 8,5 persent meer melk in die eerste helfte van die jaar geproduseer, op 7,8 miljoen liter. Suiwelproduksie is intensiewe boerdery met 71 persent wat aan voer bestee is. Tydens die inperking in 2020 toe alkoholverbruik verbied was, is baie boere lamgelê omdat hulle nie die gebruikte graan van die Namibiese brouery kon bekom nie. Die sektor het dringend beskerming nodig wat op die oomblik ook vir eiers oorweeg word.