Suid-Afrikaners se mening oor korrupsie in ANC

Sommige Suid-Afrikaners meen korrupsie het tydens die ampstermyn van President Cyril Ramaphosa vererger. Ongeveer 1 600 volwasse Suid-Afrikaners het aan ‘n nuwe peiling deur Afrobarometer deelgeneem en 64 persent van die deelnemers meen korrupsie het die afgelope jaar toegeneem. Die helfte of meer landsburgers sê die meeste of alle amptenare is by korrupsie betrokke. ‘n Totaal van 56 persent van die respondente meen die polisie is korrup, 53 persent voel so oor die kantoor van die president, met 51 persent wat sê stadsrade van plaaslike owerhede pleeg korrupsie en 50 persent wat glo die parlement is korrup. Sowat 71 persent van die deelnemers aan die opname meen amptenare wat die wet oortree, word dikwels nie gestraf nie.