Suid-Afrikaners kan op 18 en 19 September by stemlokale registreer

Suid-Afrikaners wat nie by hulle munisipale kantoor vir die plaaslike verkiesing wil registreer nie, kan dit op 18 en 19 September by hulle stemlokaal doen. Die Onafhanklike Verkiesingskommissie se voorsitter, Glen Mashinini, het dit vandag aangekondig. Die Konstitusionele Hof het die OVK opdrag gegee om die plaaslike regeringsverkiesing tussen 27 Oktober en 1 November te hou. Mashinini moedig jong mense aan om te registreer vir die verkiesing, waarvan die datum teen die 20ste van die maand uitgeroep moet word.