‘Struggle Kids’ sê hulle verdien om voorgetrek te word

Die sogenaamde Kinders van die Vryheidstryd sê dit is moeilik vir hulle om werk te bekom omdat hulle gestigmatiseer is. Die aanmerking is gemaak tydens ‘n openbare vergadering tussen die groep en die Namibiese Ombudsman John Walters. Die groep het aan Walters erken dat hulle wel voorgetrek is deur die regering in terme van poste wat uitgegee is, maar dat dit hulle reg is en dat hulle nie soos normale jeug in Namibië hanteer kan word nie. Van die lede het gesê dat die privaatsektor hulle ook nie wil aanstel nie omdat die maatskappye se base meen hulle werk is by Swapo. Ander het weer gesê hulle sou verkies om kontant te ontvang om self ‘n besigheid te begin so dat hulle hulle eie inkomste kan verdien. Walters sal ook vergaderings in die noorde met lede van die groep hou in ‘n poging om ‘n verslag daar te stel oor hulle spesifieke uitdagings.