Steve Hofmeyr en MRK stamp koppe oor koste van LGBTQ+-regsgeskil

Die koste van die regsgeskil tussen die Menseregtekommissie en die sanger Steve Hofmeyr is glo een van die redes vir die mislukking van ‘n poging om buite die hof te skik. Die onderskeie partye kon nie ‘n ooreenkoms bereik nie en die saak is tot 16 Februarie uitgestel. Hofmeyr wat nie by die gelykheidshof in Gqeberha teenwoordig was oor sy omstrede uitlatings oor die LGBTQ+-gemeenskap nie, het op sy Facebook-blad bevestig die mediasie-proses was onsuksesvol. Wanneer die hofsaak in Februarie hervat, sal die betrokke partye nie oor die meriete van die saak betoog nie, maar eerder oor tegniese punte wat in die saak betwis word, soos die jurisdiksie van die hof in Gqeberha in die saak.